Temba Travel

EUROPA JIPTOER 2024

Toer saam met die mense met 30 jaar ondervinding

15 June - 03 July

Tel: +27 (0) 21 855 0395
BESPREEK NOU>>

Junie/Julie Jiptoer Tuisblad.

(Media 24, Die Burger, Beeld of Volksblad is nie betrokke by die toer nie)

In 2023 het die Jiptoer 30 jaar oud geword. Soos wat ons jongmense en die ekonomie verander moet die toer ook aanpas. Ons leer ook uit ervarings en probeer om die jongmense wat op vorige toere was se mening in ag te neem. Daarom gaan daar groot veranderings in 2024 plaasvind. Verbetering is die wagwoord.


Op die JIPTOER gaan dit nie in die eerste plek oor plekke sien nie, maar dit gaan daaroor om ʼn voorsprong in die lewe te kry. Die toerleiers is ook sommer die toesighouers en hulle het bekendheid verwerf vir die uitstekende bydrae wat hulle tot opvoeding maak. ʼn Oorsese toer kan nooit daar wees as ʼn goedkoop vakansie vir toesighouers nie. Dit gaan ook nie oor die sien van landmerke nie. Allermins oor speel van wedstryde wat jy net sowel in Suid-Afrika kon doen. Dit is ʼn groot belegging en daarom is ons doelwitte absoluut belangrik. Dit is hierdie doel gedrewe benadering wat maak dat Temba Kollege en Reise nou al sedert 1993 minstens jaarliks (met uitsondering van Covid-tyd) die Jiptoer aanbied. Jy kan die toer geniet, maar as die toer nie vir jou ʼn voorsprong gee wat moeilik ingehaal kan word nie, is dit bloot nie die moeite werd nie.

Opvoeding is ons passie. Daarvoor het ons selfs al internasionale erkenning gekry. Ons metodes is so dat jy nie eers sal agterkom dat jy besig is om te leer nie. Jy sal waarskynlik die toer net geniet. Ons is vasbeslote om die toer die beste en lekkerste ervaring denkbaar te maak en daarvoor het ons die volgende doelwitte:


Ons leer jongmense om hulle eie veiligheid te handhaaf.
Ons sien, maar meer belangrik, ons ERVAAR Europa.
Ons leer van die ekonomie.
Ons ervaar dat ander se opinies, velkleur, oriëntering en geslag net so belangrik as ons eie is.
Ons vind self ons weg deur groot stede.
Ons leer om met liefde te leef, selfs wanneer ander nie so liefdevol is nie.
Ons leer en ervaar dat ʼn mens se waarde gemeet word deur hulle optrede en nie deur dit wat hulle aan hul liggaam hang nie.
Ons leer dat ons geluk bepaal word deur die dinge te geniet wat ons pad kruis en nie deur dinge te soek wat sogenaamd lekker is nie.
Ons wil teruggaan as jong volwassenes wat voorbereid is om ʼn bydrae te lewer om ons land, skool, huisgesin en gemeenskap met liefde te dien.
Indien ons in Europa wil of moet gaan studeer en werk, moet ons ook daarvoor voorberei word.
Ongeag waar ons wil studeer en werk, ons sal net die toer as ‘ʼn sukses beskou as ons leerders veel beter doen as sonder die toer.

 

 

Amsterdam bly belangrik’ maar dit gaan volgende jaar opgevolg word met ʼn besoek aan Berlyn, Fussen en dan Innsbruck. Ons hoop dat die blootstelling aan hierdie gebiede die reeds uitstaande sukses wat ons met die bereiking van doelwitte behaal, verder kan verbeter. Boonop speel hierdie gebiede ʼn veel groter rol in die moderne wêreld as wat Suid-Europa speel. Ons sal meer met plaaslike jongmense skakel en ons sal beslis in sneeu kan speel, selfs al mag aardverwarming ons dalk verhoed om te ski.

Die kultuur bly dieselfde. Ons bly steeds hoofsaaklik in kampeerterreine en neem deel aan kamp aktiwiteite. Ons slaap in jeughostelle of hutte in die kampterrein. Die gewildheid van die toer word grootliks daardeur bepaal. Voeg daarby dat ons vir elke een 'n fiets in Amsterdam gaan huur, sodat jy Europa soos die Europeërs kan ervaar.


Ons maak self kos In Amsterdam en in Italië en daar word van jou verwag om sekere kleiner takies te verrig. Ons voltydse kok doen egter die meeste werk. Jy moet verstaan dat die sukses van die toer afhang van jou deelname. Ook van jou deelname aan kombuistake ens. Dit is wat die toer so spesiaal maak.


Daar is dikwels ʼn dans of bymekaarkom plek vir jongmense in die kamp. Die toerleier geniet hierdie fasiliteite saam met julle. As daar nie so ʼn partytjie is nie, word jy toegelaat om ʼn ander veilige plek van jou keuse te besoek. Ons doelwit is om jou soveel moontlik toe te laat en so min moontlik te beperk. Alles binne perke.


Jy moet begryp dat jy die vrye tyd verantwoordelik moet bestuur en verantwoordelik moet optree tydens die geleenthede wat jy het om te rus. As jy nie kan verstaan dat daar ook verpligte uitstappies is nie, is die toer en jy beslis nie vir mekaar bedoel nie.

 

 


Op hierdie toer is dit ons beleid om jou as volwassene te hanteer sover jy ons toelaat om dit te doen. Jy sal dit vanaf dag een ervaar in die baie vrye tyd en humor op die toer. Ons verstaan egter ook dat ouers van ons verwag om verantwoordelik op te tree en ons sal alles moontlik doen om hulle verwagtings ook te bevredig. Daarom sal daar sekere basiese reëls geld en dié wat nie daarby wil bly nie, word vriendelik versoek om nie in te skryf vir hierdie toer nie. Optrede wat die toer vir jouself en ander kan verongeluk sal nie geduld word nie.


Die toer is gewild omdat vorige toerlede hul maats van die toer vertel en veel ouer mense besef watter waarde hulle soms reeds 30 jaar gelede, uit die toer gekry het. Ongelukkig lei dit ook tot die versterking van sekere wanpraktyke soos drankmisbruik, uitputting en tydvermorsing. Anders gestel, sommige mense kom op die toer met die gedagte dat dit ʼn drinkerstoer is waarin besienswaardighede en toer (ry) groot opofferings is terwyl die ernstigste aktiwiteit inkopies is. Dit was nooit my idee van ʼn toer nie en dit gaan beslis nie in 2024 die geval wees nie.


Drankmisbruik was in die verlede 'n probleem en ons erken dit. Trouens jy word nie toegelaat om te drink op hierdie toer nie. As jy saans dors is, mag jy 'n bier drink. In die dag mag jy slegs water of koeldrank drink.

 

 



In italië besoek ons steeds vir Venisië, Rome en Sorrento. Ons speel steeds net so hard soos wat ons werk. Jongmense leer deur ʼn kombinasie van aktiwiteite waarvan speel altyd die belangrikste is. Ons weet en erken dit.


Vir dié wat in 2024 in Gr 10 tot 12 is (15 tot 18 jariges) en daarna uitsien om ʼn beskaafde bekostigbare toer met groot onafhanklikheid na Europa te onderneem beloof hierdie toer om ʼn hoogtepunt te word. As jou enigste belangstelling die koop van klere is, besoek ʼn klerewinkel in jou dorp of stad.


Die waarde van die toer lê daarin dat tieners leer om in die "global village" te leef en sukses te behaal. Dit kan net gedoen word as almal die doelwitte van die toer onderskryf.


Ons bereik ons opvoedkundige doelwitte deur die tieners geleentheid te gee om Europa ook op hul eie te verken. Om die doelwitte te bereik is dit noodsaaklik om langer op plekke te spandeer. Dit is waarom ons sover moontlik minstens twee nagte op 'n plek vertoef, maar op drie plekke drie nagte.