YOUTH TOURS BY TEMBA COLLEGE/TRAVEL

Tel 021 8550395    Fax 021 855 5764

MEISIE-VASBYT ALGEMENE INLIGTING

Die prys van R14800 + VSA $350 sluit alle etes, vliegtuigkaartjie van die kus alle vervoer en alle aktiwiteite IN

Temba Kollege CC 2004/009414/23 11 Broad Oaks Close Somerset Wes Tel: 021 8550395 www.temba.co.za andries@temba.co.za


MEISIE-VASBYT 2018

ALGEMEENSTE VRAE

WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN. Gr. 10 en 11 meisies is welkom.


IS DIT 'N OORLEWINGSKAMP? Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die meisies word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate (meisies) gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Caprivi-Vasbyt gaan koop jy nie jou eie kos nie. Jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.


IS DIE VOERTUIE VEILIG?
Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom. Ons koop tans nuwe voertuie aan en dit gaan beslis help om die veiligheid te verbeter
Busse en die veldvoertuie hou groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbelkajuit bakkies, bied weinig beskerming ingeval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees.


BUNGI JUMPING n Enkele meisie is al ligbeseer tydens Bungee by Victoria Falls in die 16 jaar wat dit aangebied word. Naas slaap is dit seker die veiligste aktiwiteit wat ons gaan doen.


WHITE WATER RAFTING: Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal uitstaande vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag.
Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddingspersoneel sal die Vasbyters vergesel. Veiligheidstoerusting sluit onder andere reddings kajakke en ʼn helikopter met duikers in.


WILDEDIERE: Moenie illusies hê nie. Wildediere kan gevaarlik wees. Ek persoonlik aanvaar verantwoordelikheid hiervoor. Ek is dankbaar dat ek nog geen ongeluk beleef het nie. Die veiligheidsmaatreëls wat ek tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Meisies word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe.


SWEM SAAM MET DIE DUIWEL: Dit lyk baie gevaarlik, maar die feit dat daar nog nooit enige ongelukke was nie, bewys dat die inderdaad baie veilig is.


ROETEMARS:
Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wildediere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioen steke en spinnekop byte is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.


WIE IS DIE TOERLEIER? Andries Erwee (1958-model) ʼn sestigjarige pa van twee dogters. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug.
As veldgids of natuur gids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die S.A. Departement van Omgewingsake en Toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veldgidse (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01,TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuur gids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes.


WAT WIL JULLE BEREIK? Die Vasbyt beweging glo baie sterk daaraan om jongmense te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie toer sal u dogter geleer word om nie te “demand” nie, maar om ʼn weg te vind om haarself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en die idee is dat ons later toenemend meer beurse beskikbaar sal stel vir oud Vasbyters.


IS DIT FISIES UITPUTTEND? Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Caprivi-Vasbyt is vir jongmeisies wat moeg is vir die boring lewe van gemiddelde mense en iets spesiaal wil doen. Vir meisies wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome werklikheid te maak en drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.


IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN OKTOBER NIE?
Net 'n dwaas sal dit ontken. November is die warmste maand gevolg deur Oktober.


WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL?
Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die toer. Ten einde die kursus te slaag sal jy sekere fisiese en ander mikpunte moet behaal.


IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG?
Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal bv. die 2000 m in onder 15 minute en 30 sekondes moet voltooi en die groep 'n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.


HOE WORD DIE MEISIES GEKEUR? Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag? As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus maak nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 2000 m in minder as 15 minute en 30 sekondes kan afdraf as jy die kursus wil voltooi.