Temba Travel

KALAHARI VASBYT 2024

Slegs vir manne wat in 2024 in Gr 11 of wat in 2024 16 word.

BESPREEK NOU>> VIR MEISIES

Tel: +27 (0) 21 855 0395

ALGEMEEN

Deur vir hierdie avontuur in te skryf verbind jy jouself daartoe om hard te werk en ʼn groot sukses daarvan te maak. As jy nie belangstel nie, is jy welkom om by die huis te bly. As jy saamkom sal jy ook moet saamwerk.

TOERKOSTE

Die prys van die toer is R20 600 plus VSA $350 plus ʼn vliegtuigkaartjie van waar jy bly na Victoria Falls. Desember is hoogseisoen en hoe gouer jy die kaartjie koop, hoe minder gaan ons betaal. As jy van Kaapstad vlieg is daar eger ʼn groepbespreking en jy sal R3800 betaal as die lugdienste nie nou weer streke uithaal nie.

Dit sluit alle etes en ontspanning in. ”Whitewater rafting” en rekspronge (bungee) Net die voorgenome kos meer as VSA $350 per persoon, maar is ingesluit by die prys. Dit is egter 'n uitdruklike voorwaarde vir deelname aan die toer dat jy nie meer as R800 sakgeld mag saam neem nie. *Die USA $350 word vermenigvuldig met die aankoop prys van die dollar soos op 15 Oktober 2023 om 12h00.

Ons wil nou slegs ‘n R2 000 deposito van jou hê Dit sal ons administrasie dek.”

MEES ALGEMENE VRAE

WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN?Vir die 2023 Vasbyt moet jy in gr. 11 of 17 wees in 2023.

WAT GEBEUR MET COVID-19? Ons weet natuurlik nie presies wat Covid vir ons in hou nie, maar ons is trots daarop dat ons n plan kon vind, om aan te gaan en suksesvol te wees, ten spyte van daarvan. Dit verg groot aanpasbaarheid van almal van ons en ek wil jou nooi om deel van die aanpasbares te wees

IS DIT 'N OORLEWINGSKAMP? Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die seuns word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Kalahari Vasbyt, gaan koop jy nie jou eie kos nie; jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.

IS DIE VOERTUIE VEILIG? Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom. Ons gebruik Toyota Landcruisers. Die ryery is nietemin 'n baie gevaarlike deel van die kursus. Veral ook omdat die seuns soms agterop die bakkie sit, maar alles moontlik en menslik word gedoen om hul veiligheid ter alle tye te verseker.

So, byvoorbeeld, hou busse en die veldvoertuie groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus- en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbel kajuit-bakkies, bied weinig beskerming in die geval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees.

REKSPRONGE? Daar het al persone seergekry by laer spronge. Die brug by Victoria Falls is egter hoog. Derhalwe het geen persoon nog ʼn ernstige besering opgedoen in die nagenoeg 15 jaar wat daar elke dag minstens 70 spronge gedoen word nie. Om seer te kry in die bad is meer as 100 keer meer waarskynlik. Extreme Adventures bied hierdie avontuur aan. Hulle is uitstekend toegerus en bied ook die spronge in Suid-Afrika en Nieu-Seeland aan. Daar was wel ʼn insident waarin iemand lig beseer is en Temba Kollege het self ʼn rol gespeel om dit nog veiliger te maak.

“WHITE WATER RAFTING”? Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal besonder vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag.

Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddings personeel sal die Vasbyters vergesel. Die veiligheidplan en -voorbereiding sluit, onder andere, die teenwoordigheid van reddings kajakke en ʼn helikopter, met duikers, in.

WILDE DIERE? Moenie illusies hê nie. Wilde diere kan gevaarlik wees. Ek persoonlik aanvaar verantwoordelikheid hiervoor. Ek is dankbaar dat ek nog geen ongeluk beleef het nie.

Die veiligheidsmaatreëls wat ek tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Seuns word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe.

ROETEMARS? Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wilde diere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioensteke en spinnekopbyt is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.

WIE IS DIE TOERLEIER? Andries Erwee (1958-model) en pa van twee dogters. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug. Ek het al Die Burger se jeug toere (42 Jip-toere in totaal) gelei.

As veld- of natuur gids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake en toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veldgids (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01/TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuur gids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes.

WAT WIL JULLE BEREIK? Die Kalahari Vasbyt-beweging glo baie sterk daaraan om jong manne te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie toer sal u seun geleer word om nie te “iemand” nie, maar om ʼn weg te vind om homself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en sodanige kultuur word tydens die kursus tuis gebring met die doel dat Vasbyters mekaar ook gedurende die jare wat volg instinktief sal bystaan en help wanneer nodig.

IS DIT FISIES UITPUTTEND? Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen.

Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Kalahari Vasbyt is vir jong manne wat moeg is vir die vervelige lewe van gewone deursnee mense en iets spesiaal wil doen. Vir ouens wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome n werklikheid te maak en nòg drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.

NET TE VEEL GELD VIR 'N BINNELANDSE TOER? Kyk wat kry jy: Vliegtuigkaartjies R1000 - Reksprong US$110 - “White water rafting” US$215 - 20 dae akkommodasie waarvan drie in chalets - Kursusmateriaal R500 - Nasionale Parke-toegangsgelde R3 780 - 20 dae se uitstekende etes - Sertifikaat R450 - Klere en tasse R800 - en nog vele meer vir minder as ʼn vliegtuigkaartjie na Europa.

IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN JANUARIE NIE? Botswana en Victoria Falls is heel gemaklik. Ek het egter al uiters warm weer in die Sentraal-Kalahari beleef tydens Januarie. Vanweë die bewolktheid in Januarie, is die gemiddelde temperatuur 4,3 grade koeler as in November en 2,8 grade koeler as Oktober. Berei jou nietemin voor op warm weer.

WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL? Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die toer. Ten einde die kursus te slaag sal jy egter sekere fisiese mikpunte moet behaal.

IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG? Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Geen akademiese toets word afgeneem nie. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal byvoorbeeld die 3 000m in onder 16 minute moet voltooi en die groep 'n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.

WAAROM NIE MEISIES NIE? Ons doen 'n soortgelyke toer vir meisies gedurende September. Kyk gerus na die Meisie-Avontuur op ons webbladsy. Ons wil nie die seuns en meisies op een kursus neem nie. Daar is dinge wat fisies onmoontlik vir meisies is om te doen en daar is ander dinge wat ouens nie kan doen nie. Boonop verloor ouens hul fokus as meisies saam is, soos wat 'n reunhond sy fokus verloor as daar 'n teef, wat op hitte is, naby is.

HOE WORD DIE OUENS GEKEUR? Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag. As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus slaag nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 3 000m in minder as 16 minute kan kafdraf as jy die kursus wil voltooi.

TEN SLOTTE: Julle gaan die Vasbyt-lied leer en nooit vergeet nie, maar die volgende vers sal altyd tot hierdie avontuur soos geen ander resoneer:

"Terwyl softies by die see lê

en rondlê in die klubs,

word hier vriendskap en karakter

deur sweet en bloed gebou”

Ons wag opgewonde om jou aansoek te ontvang en jou te verwelkom by die Vasbyt-familie!