EUROPA JEUG TOER JUN/JUL 2011

Vry 24 Jun:. Bon voyage! Ons vertrek vanaf Kaapstad Internasionale lughawe na Dubai om 18:10 aanboord vlug EK 771.

Sat 25 Jun - Londen: Ons arriveer om 13:15 in Londen en doen 'n stadstoer onmiddelik na aankoms. Ons besoek onder andere Windsor Kasteel, Die London Museum en St Pauls katedraal terwyl ons ander belangrike besienswaardighede van buite sien.

Son 26 Jun - Londen: Vandag besoek ons 'n hele klomp besienswaardighede en toegang is boonop ingesluit. Die Royal Mews waar die Koningin se vervoer gereël word. The Tour of London, Tower

Bridge, Die Royal Albert Memorial en Kensington Paleis is alles ingesluit.

Maan 27 Jun - Londen: Londen is joune vir die hele dag! Of miskien moet ek sê byna die hele dag. Madam Tussuads is ingesluit in die oggend. Daarna is jy vry. Westminister Abbey, Harrods, Piccadilly, Carnaby Street ... Jy sal moet roer om alles te sien! Gelukkig kry jy ‘n kaartjie vir die moltrein. Dit gee jou vrye tyd om Londen op jou eie tyd te verken. As jy dit verkies kan jy ook saam met jou toerleier op ‘n toer deur die stad gaan.

Om 20:00 vertrek ons vanaf Liverpool stasie na Harwich vanwaar ons met 'n oornag

veerboot na Hoek van Holland vertrek. Ons slaap in kajuite en geniet die gees op die boot.

Dins 28 Jun - Hoek van Holland tot Amsterdam: Kry julle klompe reg, want vandag is ons in Nederland. Ons begin met 'n opsionele besoek aan Vollendam.

Woens 29 Jun - Amsterdam: Vanmiddag besoek ons die bekende Rijksmuseum met die werke van onder andere Rembrandt.

Vanaand sluit ons die dag af met ‘n wandeling deur die sogenaamde Rooilig gebied.

Don 30 Jun- Amsterdam tot Parys: Vive le France! Vanoggend neem ons afskeid van Amsterdam en reis per bus na Parys. ‘n Stadstoer deur skone Parys gaan ons vanaand na wêreldbekende besienswaardighede soos die Notre Dame-kerk, Gustav Eiffel se toring, die Seine-rivier, en nog vele meer neem.

 

Vry 1 Jul - Parys: Et aujourd’hui, Bonjour paris! Vandag is jy nie verplig om saam met jou toerleier te beweeg nie. As jy avontuurlustig is kan jy Parys op jou eie verken. Vir die wat verkies om wel saam met my te beweeg, word daar ‘n besoek aan al die hoogtepunte beloof. Ingesluit: toegang tot Notre Dame, Versailles en Louvre museum. As jy van die ingeslote toere wil gebruik maak sal jy saam met die toerleier moet beweeg. Begroot ‘n maksimum van Euro 11 as jy tot bo op die Eifeltoring wil gaan en Euro 5 vir vervoer binne die stad.

Sat 2 Jul - Parys: Vandag is jy die hele dag vry om Parys op jou eie te verken.

Son 3 Jul- Parys tot Luzerne: Au Revoir, Paris! Ons ry vandag per bus vanaf Parys na Switserland, tot in Luzerne.

Maan 4 Jul - Luzerne: Vanoggend besoek ons berg Pilatus (opsioneel). Vanmiddag is jy vry om ‘n bietjie uit te vind of Switserland se sjokolade regtig so lekker is soos almal sê.

Daar gaan ook genoeg tyd wees om in die Switserse sneeu te baljaar. Dit is nou as aarverwariming nie veroorsaak het dat daar dalk geen sneeu in die Alpe oor is nie. As plaasvervanger vir die sneeu is daar 'n "bobslee" wat op wiele hardloop en gewoonlik vir groot pret sorg.

Dins 5 Jul : Ons ry deur die wêreld se langste tonnel die St. Gothardtonnel tot in Italië en dan al langs die middelandse see tot in Nice langs die bekende Franse Riveira. Onderweg gaan ons deur meer as 200 tonnels en ongeveer oor net soveel brue. Veseker is dit een van die mooiste roetes waarlangs mens kan ry op die ganse aarde.

Woens 6 en Don 7 Jul: Ons bly vir twee nagte baie naby die strand in 'n Etap hotel. Die strande van Nice is speelplek van die wêreld se rykstes en ons gaan net lekker onstspan op die strande. Nice bied ideale ruskans na ons baie stappery in die groot stede. Jy gaan vry wees om te kom en gaan soos jy wil met slegs geringe beperkings. Drie persone deel 'n kamer en geen etes is ingesluit by Nice nie.

Vry 8 Jul - Nice, Monaco, Genoa: Vandag verander ons toer heeltemal. Ons ry per trein en nie meer met 'n

luukse bus nie. Dit het die voordeel dat ons lekker kan slaap en vinniger beweeg, maar die nadeel dat ons minder van 'n hegte groep sal wees.

Ons eerste stop is Monaco, waar ons nie alleen die bekende Formule1 renbaan sal sien nie, maar ook sal beleef hoe die heel rykste mense leef.

Ons oornag in 'n jeughostel in Genoa. Hierdie stad was die eerste keer in 2011 deel van ons toer en dit was in elke opsig 'n wenner. Die uitsig is prentjiemooi en die mense veel vriendeliker as by die meer algemene toeriste bestemmings.

Sat 9 en Son 10 Jul - Florence:Die leunende toring van Pisa stel ons aan Italië en Tuscany land van pizza, per piacere bekend! Later ry ons na Florence, die wêreld se kuns-hoofstad.

Al hou jy nie van kuns nie, gaan Florence ‘n pad met jou stap, want hier sien jy die wêreld se heel beste. Jy is heeldag vry om die stad op jou eie te verken.

Die dag in Florence is een van die rustigstes op die toer. Florence is nie so groot soos bv. Rome, Parys, Londen en Amsterdam nie, maar die besoek aan die museums die Uffizi en Akademia is ingesluit.

Maan 11 en Dins 12 Jul - Florence tot Venesië: Vandag reis ons per trein van kunsstad na waterstad. Ons kampeerterrein is ‘n paradys vir jongmense. Ons doen ‘n stadstoer (te voet) van Venesië. O sole mio - ‘n romantiese rit in ‘n Gondola is opsioneel. Vanmiddag is jy vry om al die gangetjies en stegies van Venesië te verken.

Wanneer daar nie wind is nie kan die muskiete deksels lastig wees in Veneisië. Onthou om voorsorg te tref.

Woens 13 en Don 14 Jul: - Venesië tot Rome: Ons reis tot in die antieke stad Rome waar ons vir drie nagte vertoef. Rome is ‘n groot stad met baie besienswaardighede. Ons doen ‘n stadstoer. Die res van die tyd is jy vry om al die antieke wonders en ander opwindende plekke te besoek.

Rome is 'n onoortreflike stad met besienswaardighede en kuns wat oor baie eeu daar gevestig is. Nieteenstaande is dit ons verblyfplek wat die hoogste punte deur die meeste jongmense gegee word.

Daar is 'n swembad en kuiergat wat deeglik benut word. Op hierdie toer gaan jy baie vryheid hê en dit is veral in plekke soos Rome waar jy dit sal beleef. Dit is nietemin baie noodsaaklik dat jy ook sal verstaan dat daar perke is. Daardie perke word in die aansoekvorm skriftelik uiteengesit en ons sal beslis nie toelaat dat dit oorskry word nie. Dit is ongelukkig so dat die kuierplek in Rome ook tot botsings met die toeleiers kan lei.

Vry 15 Jul - Rome: Ons laaste dag in Europa het aangebreek. Daar word afskeid geneem van die Colloseum, Piasa Novona, Die Vatikaan en sommer net die hele Europa. Jy is die heeldag vry om Rome op jou eie te verken.

Sat 16 Jul - Rome tot Dubai: Vanoggend is daar nog geleentheid om die laaste dinge af te handel. Om 17:45 vertrek ons aanboord vlug EK096 na Dubai waar ons om 01:15 arriveer.

Son 17 Jul: Om 08:35 vertrek ons vanaf Dubai met vlug EK 770 en ons arriveer in Kaapstad om 16:25. Hier neem ons finaal afskeid van ons nuwe vriende en die beste vakansie van ons lewens.

NA EUROPA JEUGTOER TUISBLAD