Jammer hierdie toer is nou vol bespreek

EUROPA JIPTOER VIR TIENERS IN JUN/JUL 2011
Jammer hierdie toer is nou vol bespreek

Hierdie toer is altyd maande vooruit vol bespreek. Omdat dit die enigste Europa toer is wat in 2011 gaan plaasvind gaan dit waarskynlik baie vinnig vol wees. Boonop gaan dit 'n baie spesiale toer wees. dit is die heel laaste keer dat Andries Erwee die toerleier gaan wees en hy is vasbeslote om dit die beste toer ooit te maak.

Hierdie toer vind nou reeds sedert 1994 plaas en dit gaan beslis ook in 2011 die die geval wees. Tyd bring verandering. Ons bl deesdae langer op plekke en sluit meer in. Tog kom die prys effens af vir 2011. Ons het aanvanklik beplan om ook die Suidelike stad Napels in te sluit. Nadat ons egter in 2010 Genoa besoek het was die meeste dit eens dat dit 'n perfekte stop was. Ons bly dus steeds drie nagte in Nice. Gebruik heelwat tyd by Monacco en oornag dan by Genoa met sy onverbeterlike uitsigte en vriendelike mense.

Ons bly deesdae langer op plekke. Trouens ons gaan drie nagte in Londen, Parys, Nice en Rome bly en op die ander plekke twee nagte.

Die grootste verandering gaan egter in terme van die vervoer plaasvind. Ons het die bus in 2009 gemis. Daarom gaan dit 'n gekombineerde toer wees. Tot by Nice gaan ons in 'n luukse bus ry. Dit gaan ons geleentheid gee om baie van mekaar te leer en ook om mekaar te leer ken. Vanaf Nice gebruik ons egter die treine. Dit gaan jou geleentheid bied om in die dag te rus terwyl ons blitsvinnig tussen die stede in treine aflê.

Die kultuur van die toer gaan geensins verander nie. Ons bly steeds hoofsaaklik in kampeerterreine en neem deel aan kamp aktiwiteite. Ons slaap in jeughostelle of hutte in die kampterrein. Die gewildheid van die toer word grootliks daardeur bepaal.

Ons slaan ʼn kombuistent op en daar word van jou verwag om sekere kleiner takies te verrig. Ons voltydse kok doen egter die meeste werk.

Daar is normaalweg ʼn disko of bymekaarkom plek vir jongmense in die kamp. Die toerleier geniet hierdie fasiliteite saam met julle. Die disko het egter geen werklike prioriteit op hierdie toer nie. Ons geniet dit as ons kan, maar dit gaan geensins ons program bepaal nie. Alhoewel die toer nie ʼn kerk toer is nie bepaal Christelike norme wat aanvaarbaar is en wat nie.

Jy moet begryp dat jy die vryetyd verantwoordelik moet bestuur en verantwoordelik moet optree tydens die geleenthede wat jy het om te rus. As jy nie kan verstaan dat daar ook verpligte uitstappies is nie, is die toer en jy beslis nie vir mekaar bedoel nie.

Op hierdie toer is dit ons beleid om jou as volwassene te hanteer sover jy ons toelaat om dit te doen. Jy sal dit vanaf dag een ervaar in die baie vryetyd en humor op die toer. Ons verstaan egter ook dat ouers van ons verwag om verantwoordelik op te tree en ons sal alles moontlik doen om hulle verwagtings ook te bevredig. Daarom sal daar sekere basiese reëls geld en dié wat nie daarby wil bly nie, word vriendelik versoek om nie in te skryf vir hierdie toer nie. Optrede wat die toer vir jouself en ander kan verongeluk sal nie geduld word nie.

Die toer is gewild omdat vorige toerlede hul maats van die toer vertel. Ongelukkig lei dit ook tot die versterking van sekere wanpraktyke soos drank misbruik, uitputting en tydvermorsing. Anders gestel, sommige mense kom op die toer met die gedagte dat dit ʼn drinkerstoer is waarin besienswaardighede en toer (ry) groot opofferings is terwyl die ernstigste aktiwiteit inkopies is. Dit was nooit my idee van ʼn toer nie en dit gaan beslis nie in 2011 die geval wees nie. As jy slegs daarin belangstel om inkopies te doen en snags te drink is die toer beslis nie vir jou bedoel nie. Ook nie as jy op luuksheid ingestel is nie. As jy oortuig is dat jy iets nuuts en oorspronklik wil beleef en boonop bereid is om by die voorwaardes van die ooreenkoms in elke opsig te hou, sien ek uit na jou inskrywing

Vir dié wat in 2011 in Gr 10 tot 12 is (15 tot 18 jariges) en daarna uitsien om ʼn beskaafde bekostigbare toer na Europa te onderneem beloof hierdie toer om ʼn hoogtepunt te word.

Die waarde van die toer lê daarin dat tieners leer om in die "global village" te leef en sukses te behaal. Dit kan nie gedoen word deur van een plek na die volgende te hardloop en in lang toue te staan nie.

Ons bereik ons opvoedkundige doelwitte deur die tieners geleentheid te gee om Europa ook op hul eie te verken. Om die doelwitte te bereik is dit noodsaaklik om langer op plekke te spandeer. Dit is waarom ons sover moontlik minstens twee nagte op 'n plek vertoef.

Opvoeding is ons passie. Daarvoor het ons selfs al internasionale erkenning gekry. Ons metodes is so dat jy dit nie eers sal agterkom nie. Jy sal waarskynlik die toer net geniet. Ons is vasbeslote om die toer die beste en lekkerste ervaring denkbaar te maak.