Mees algemene vrae wat ouers vra:

Watter voordeel is daar vir my kind in die toer?

Elke toer het sy eie unieke eienskappe en die voordele word daardeur bepaal. Enersyds is die Kalahari-Vasbyt 'n kursus en andersins is die Trein-Safari weer meer op ontspanning gerig. Die Europa toere val iewers tussenin.

Ongeag watter toer u kind verkies, behoort hy of sy 'n voorsprong bo sy of haar maats te hê wat nie die toer bygewoon het nie. Jongmense leer deur ervaring om onafhanklike denkers te wees, hoe om met geld te werk en watter waardes hy of sy wil aanhang.

Ons toere is ongelooflik gewild en beslis nie omdat dit goedkoop is nie. Veel eerder omdat ouers wie se kinders op een van ons toere was dikwels nie uitgepraat kan raak oor die baie positiewe uitwerking wat hul by hul kinders waarneem nie.

Is die toerleiers betroubaar?

Andries Erwee is in 1958 gebore en is getroud met twee dogters. Sy passie vir jongmense is wyd bekend. Tydskrifte, koerante en ander media het al dikwels sy besondere gawes met jongmense beskryf. Die Sarie het by geleentheid geskryf: "orals oor staan ouers verstom oor wat hy regkry met hul kinders". LEES ARTIKEL Andries het die hoogste kwalifikasie in Suid-Afrika verwerf as kultuurgids en is ook 'n ten volle gekwalifiseerde natuurgids.

Tertius Zimmermann het sy eerste toer as standerd ses leerling in 1987 saam met Andries meegemaak. Hy het sederdien intensief getoer. Sy besonder aangename persoonlikheid maak hom een van die gewildste toergidse in Suid-Afrika. Hy is gekwalifiseer as kultuur en natuurgids. Tertius is in 2005 getroud en het onlangs voltyds in teologie begin studeer.

Op byna elke toer is daar ook ander volwassenes. Ons doen alles denkbaar om persone te selekteer wat ons visie vir die opvoeding deel. As jou kind nie bereid is om alles te gee ten einde seker te maak dat hy of sy met 'n voorsprong in die lewe terug kom nie, moet hulle liewer nie deel word van ons span nie.

Alhoewel ons alles moontlik doen om u kind te beskerm, is daar ongelukkig ook mense wat alles moontlik doen om u kind vir hul eie selfsug te misbruik. Daarom maak die toerleier seker dat alle volwasse leiers by die onderstaande reëls bly.

GEDRAGSKODE VIR VOLWASSENES OP AL TEMBA SE JEUGTOERE:

  1. Leerders se privaatheid word beskerm. Indien dit onvermydelik is om leerders se storte te besoek, moet twee volwassenes altyd saamgaan. Volwassenes deel nooit kamers of tente met tieners nie sonder uitdruklike goedkeuring van die toerleier nie en dan ook net in hoogs uitsonderlike gevalle.
  2. Geen alkohol word gebruik vir tenminste 5 ure voordat u ‘n voertuig bestuur nie.
  3. Geen volwassene mag ooit sigbaar onder die invloed van drank naby leerders of in hul kamp wees nie. Geen volwassenes drink hoegenaamd wanneer hy of sy aan diens is nie.
  4. Geen straf van watter aard ookal, mag sonder die uitdruklike goedkeuring van die toerleier aan enige leerder uitgedeel word nie. Selfs al is u ook die ouer van die betrokke kind.
  5. U moet met woord en daad die billike opdragte van die toerleier aan tieners respekteer en die toer reëls ondersteun.

Klik op die sleutel en vra verwysings aan. Meld net die woord "verwysing" en noem die toer waarin u belangstel. Ons stuur u al die name met selfoon nommers van die toerlede waat deelgeneem het aan die laaste soortgelyke toer of kursus. U kan dan self besluit vir wie u wil skakel. Ek dink dit is 'n baie roekelose mens wat hul kind saam met iemand stuur sonder dat hul uitvind of die toer en persone in beheer betroubaar is. VRA VERWYSINGS

TERUG NA TUISBLAD